Johnnie Takbok stel nuwe enkelsnit vry, Lê my neer

Op die publisiteitsfoto van die groep Johnnie Takbak se jongste enkelsnit, Lê my neer, sit ’n geraamte met ’n verweerde veldhoed op in die skadu van ’n boom; kitaar in die hand, oë donker kaste, neusgate splete waarin die reuke van die verlede vasgevang is.

Met die eerste oogopslag tref die foto (of kunswerk) jou as donker, vreemd. ’n Post-apokoliptiese uitbeelding van waarheen die wêreld op pad is.

Maar eintlik is dit simbolies. Die geraamte op sig self kan ’n teken wees van eerbetoon aan voorouers wat in die geval van Lê my neer ’n metafoor word van geslagte “boere” wat onder die bloekombome op hulle familieplase begrawe is.

In baie opsigte verteenwoordig die geraamte ook die teenoorgestelde van die dood; die bewys van lewe en ’n spesifieke lewe om presies te wees.

Die rock-groep Johnnie Takbok is soveel meer as net kuierkroeg-rockers; die lirieke sny deur vlees en been; dit laat jou wonder oor die kortstondigheid van die lewe, oor dinge waaroor ’n mens nie beheer het nie.

Musiekkritici beskryf hulle musiek as platteland-noir waar die donker van die lewe op ’n plaas gekonstateer word met die lig.

Hulle is digter-rockers wat daarin slaag om die liriek fyn met die musiek te verweef en ’n storie te vertel wat op ’n manier ook as versetrock teen plaasmoorde en sinnelose geweld beskou kan word.

Johnnie Takbok, die voorsanger en liriekskrywer van die groep, het bykans nege jaar gelede die groep gestig, maar “die groep het deur die jare ’n bietje verander soos wat groepslede gekom en gegaan het.”

Volgens Johnnie het die groep net né die Covid-19 pandemie opgebreek. “Ek het vir ’n jaar na die pandemie onder die skuilnaam Johnnie Takbok opgetree.”

Hoewel “Johnnie” sy solo-loobaan geniet het, was hy so leeg soos die spreekwoordelike whiskey-glas en het hy besluit om weer ’n groep op die been te bring.

Die groep, wat so tussen Pretoria en Vanderbiljpark versprei is, het vir die eerste keer die jaar hulle verskyning as “die nuwe” Johnnie Takbak Band op die musiekverhoë gemaak, en sedertdien het dié groep die musikale rubrikon oorgesteek.

Dit is nie net die Pretorianers wat bewus geraak het van Johnnie Takbok nie. Regoor die land vlieg hul naam op X, Instagram en YouTube soos swaeltjies wat van somerson na somerson trek.

Hulle is nuut, opwindend en so luidrugtig soos ’n plektrum wat oor ’n kitaarsnaar getrek word…

Die groep bestaan uit die hoofkitaarspeler Dean Henning, drommer Francois Jones, basspeler Eulise Jones, en Johnnie Takbok, liedjieskrywer, sanger, en ook kitaar- en mondfluitspeler.

Volgens Johnnie kom al die groep se lede van die platteland af en is hulle almal bekend met dáárdie lewe. “Ons het die grootste deel van ons lewe op ’n plaas of klein plattelandse dorpies deurgebring. Ek het ook op verskeie plase grootgeword en het ook vir ’n paar jaar in Amerika geboer. Ons is baie lief vir die Afrikaner/Boere geskiedenis en ons mense en dit is hoofsaaklik waar die digkuns vandaan kom.”

Die lirieke van Lê my neer is diep en donker. “Ons beskou die liedjie nie as ’n politieke wekroep nie, omdat ons dalk ons vingers mag brand, maar as ’n mens moet opstaan vir die onregte wat teen die Afrikaners en boere gepleeg word, sal ons nie skroom om daarteen op te staan nie.“

“Die lied, sê Johnnie, kom uit die hart van ’n boerseun en is ’n gedig wat getoonset is om die liefde en betekenis van ’n boer vir sy plaas te illustreer. Om ’n boer te wees beteken baie meer as net ’n landbouer.’’

“Jou wortels lê diep geplant in die grond wat jy benut, jou beginsels gebou op geloofswaardes, hardwerkendheid, swaarkry, en ellende, ‘n eienskap wat deur generasies oorgedra is. Daar is nie ’n beter plek om rus te vind as om jou kop neer te lê op die plaas nie.’’

Lê my neer is ’n donker rock-snit wat ’n aanwins vir die Afrikaanse rockmark is. Dit is liedjie wat ’n diep boodskap aan luisteraars oordra; bly nederig, gelowig, nougeset en werk altyd hard.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →