Mari van der Walt debuteer dié maand met haar enkelsnit, Rig jou oë na bo.

In Henneman, ’n klein plattelandse dorpie in die Vrystaat, kan ’m mens altyd ’n juweel raakloop;  dalk ’n bekende familienaam op een van die grafstene in die konsentrasiekamp of ’n pasgebore hasie by die haasplaas.

As jy in  Anniestraat afstap, sal jy dalk net Mari van der Walt se klokhelder stem hoor; so skoon en helder is soos die Vrystaatste hemelruim. ’n Stem wat sy nou inspan om vir nie-sprekendes Engelse grammatika te verduidelik.

En , as jy gelukkig is, sal Mari dalk vir jou sing….

Mari debuteer dié maand met haar enkelsnit, Rig jou oë na bo, en die snit is een van dáárdie Vrystaatste juwele wat jy dalk net een keer in ’n leeftyd gaan vind….

Want Mari wou nie eintlik ’n sangeres wees nie.

Want Mari beskou haarself nie as ’n “liedjieskrywer van formaat nie.”

Want, sê sy, sy kan nie eers ’n musiekinstrument bespeel nie.

Maar dit is soms, in die eenvoud van musiek en liriek, in die eenvoud van woorde wat jy die verskuilde boodskap sal hoor.

Rig jou oë na bo is wel ’n gospelliedjie, maar dit grens ook aan die sekulêre mark. Dit is ’n snit wat nie net tydens ’n lofprysaand gesing kan word nie, maar ook langs die braaivleisvuur.

Dit is, in kort, ’n snit wat gestroop is van enige oordadigheid of gedwepery. Dit is ’n snit wat uit die diepste van die liriekskrywer se siel kom.

Mari sê: “Ek dat dié snit nie uit myself uitkom nie, want ek beskik nie regtig oor enige musiekkennis nie. Dit is waarom ek glo dat die Hand van bo my gehelp het om die snit te skryf.”

Mari is nie ’n bekende stem in die gospelkerkringe nie, nog minder ’n bekende gesig op die plaaslike verhoë, maar sy hoop dat die snit ’n groot rol gaan speel om mense deur die storms in hul lewens te gaan. ’n Diep geloof wat ook in die liedjie manifesteer.

 Liefde, genade en hulp word ook (onbewustelik) tematies in die lirieke ingeweef.

Mari vertel dat sy en haar gesin die afgelope twee jaar deur verskeie storms moes gaan. “My man was baie siek en het twee groot operasies ondergaan. Ek was glad nie van plan om ’n liedjie te skryf of te sing nie, want ek het al my energie op my man se gesondheid en my kinders se welstand gefokus.”

“Iewers, in Desember 2023, het ek met ’n liedjie in my kop wakker geword. Ek het dit sommer op WhatsApp opgeneem en aan die musiekvervaardiger Etienne Lane gestuur. Hy het van die liedjie gehou en geglo dat hy iets moois uit die rou weergawe kon tower.“

En dit was ook die geboorte van Rig jou oë na bo. “Ek glo dat die lied baie mense sal bemoedig.“

Etienne Lane het ook die liedjie tegnies versorg, gemeng en opgeneem.

Rig jou oë na bo  is ’n warm liedjie, wat jou gaan laat nadink oor die genade wat ons daagliks ontvang. 

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →