Ryan Burnwood se jongste enkelsnit, Leef binne my, is pas uitgereik

“Jou huis is waar jou hart is en dáár waar jou hart is, sal jy liefde, geluk en vrede vind.”

Só beskryf die musikant en sanger Ryan Burnwood die betekenis van sy jongste enkelsnit, Leef binne my, wat pas uitgereik is.

Hoewel Ryan ’n rocker is met ’n bietjie Jan Blohm en ’n datjie Ryno Velvet is die snit nie ’n donkerkamer-kopskud nie, maar eeder ’n liriek-en-musiekgedrewe luisterliedjie wat meesterlik verwerk is en vertolk word.

Dit is ’n snit wat oor die liefde handel; oor vorige verhoudings wat diep letsels gelaat het, maar dáárdie letsels word verdwerg deur die nou-liefde, die oomblik-liefde. “Dit beskryf werklike, diep liefde en ek het diep uit my  eie siel en verhouding geput om die lirieke te skryf,” vertel Ryan.

“Ek dink baie geliefdes verstaan die gevoel as julle nie bymekaar is nie – dit is bykans ’n ondraaglike pyn, asof een van jou ledemate nie meer daar is nie. Dit beskryf ook die gevoel as jou geliefde nie meer in die verganglike wêreld is nie, maar altyd binne jou sal wees. Die letsel op jou hart,” vertel hy.

Ryan is op die mydorpie Stilfontein in die Noordwes-provinsie gebore.   Hy het sy graad aan die destydse Vaaldriehoek Technikon verwerf en “toe ek gradueer kon ek sommer ook kitaar speel.”

Ryan is die meester van die kitaar en hy is ook die trotse eienaar van dertien kitare, “maar my gunsteling kitaar, sê hy, is die elektrise kitaar, want dit is waaruit rock ’n roll-klanke kom.”

Afgesien van die akoestiese, bas en elektriese kitaar, kan hy ook vyf ander instrumente bespeel.

Ryan het sy toetrede in 2012 tot die kommersiële musiekbedryf gemaak, maar is al vanaf 1998 met musiekdinge besig; hy was deel van sy kerk se lofprys- en aanbiddingsgroep. Hy het na ’n paar jaar dié groep verlaat.  “Ek moes terugkeer na my ouerhuis in Klerksdorp, want my lewe het in duie gestort. Tóg was dit ook vir my ’n nuwe begin, want kort daarna het ek na Rustenburg verhuis waar my vriende my aangemoedig om voor gehore te begin optree.”

 Hy het na hulle geluister en in Desember van daardie jaar het hy ook sy eerste vollengte album, Never let go, uitgereik wat ’n diep, persoonlike boodskap oorgedra het.

Ryan beskou sy lirieke as iets wat diep uit sy siel kom. “Ek wil emosies in die luisteraar wakker maak, hetsy dit goeie, slegte, hartseer of gelukkige tye is,” sê hy. “Musiek is die sleutel tot die siel. Musiek, is volgens my, die enigste ding wat mense van alle rasse en kultuurgroepe in gemeen het.”

Ryan het ’n paar jaar gelede na Hartbeespoort verhuis en dáár het sy paaie ook met die van die sanger en musikant Blackie Swart gekruis. Dié ontmoeting het vir Ryan nuwe musiekdeure oopgemaak.

“Blackie het my onder hande geneem en het my gehelp om musikaal te groei. EK het gereeld in sy kuierkroeg, Lulu’s, begin optree.”

In die ateljee het dinge ook vir Ryan begin gebeur – dit was asof lirieke uit hom begin stroom het. “Ek het in die stadium meer liedjies wat opgeneem moet word as tyd tot my beskikking,” spot hy.

 Die spreekwoordelike lourierkrans op sy kop was toe  hy verlede jaar vir ’n Afri Indie-toekenning vir die beste rock-enkelsnit genomineer is. Dit het hom laat besef dat elke stukkend gespeelde plektrum, elke traan en elke letsel die moeite werd was.

Leef binne my is ’n lekkerluistersnit wat by oud en jonk sal byval vind.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →