POSDUIF SE NUWE ALBUM EN ENKELSNIT VERSPREI SOOS ’N VELDBRAND

Die lang wag is uiteindelik verby, want die gewilde musiekgroep, POSDUIF, is terug in die kollig met ’n vuurwarm enkelsnit en splinternuwe album wat aanhangers se grootste verwagtinge gaan oortref.  

Foto krediet

Altin Ferreira

Hulle nuutste treffer, BRANDSTIGTER, uit die pen van James Boland en Nick Jordaan, beloof om die vonke behoorlik te laat spat en is reeds besig om soos ’n veldbrand onder musiekliefhebbers te versprei.

“Dit is ’n Bonnie en Clyde-storie oor passie, jong liefde en om jouself in die oomblik van verlief wees te verloor,” verduidelik Boland. “Dit is daardie gevoel wanneer jy iemand ontmoet wat jou hele wêreld verander, daardie een persoon wat die vuur in jou aansteek, jou brandstigter.”

Die groep glo dat die liedjie by luisteraars sal aanklank vind omdat dit opgewek is en omdat die passie daarvan in die musiek en melodie gevoel kan word. “As jy verlief is of al verlief was, of droom van ’n wilde liefde wat jou wil laat uitskree, as jy weet of wil weet hoe dit voel om jouself in iemand te verloor en waar julle al die reëls wil breek, dan is hierdie liedjie vir jou,” verduidelik hulle. Kyk ook uit vir die liriekevideo wat binnekort beskikbaar sal wees.

BRANDSTIGTER isook die titelsnit van POSDUIF se splinternuwe album wat deur Brendan Campbell vervaardig is. Die enkelsnit is aanduidend van die aard van die res van die album – lewendig, energiek, passievol – en vang die groep se gevoel oor die album vas.

“Elkeen van ons leef met passie en gee alles. Ons het BRANDSTIGTER as die titelsnit en eerste enkelsnit gekies want dit is ’n liedjie wat daardie gees vasvang, een wat ons kliphard wil speel, en met ’n liefdesverhaal wat ons wil hê almal moet ervaar,” verduidelik Boland.

Hy voeg by: “Die album is ’n kombinasie van lewendige, energieke musiek wat stories vertel oor groot kuier, wilde liefde, passievol verlief wees en ’n voetfout. Dit is oor laat kuier, heelnag dans, vure, vriende en groot gaan. Dan is daar omgee, familie, jou hart se diepste geheime en liefde vir jou kinders. Dit is nege liedjies wat jou op ’n rit vat en elkeen is ’n storie – jy moet na almal luister om die volle verhaal te ervaar.”

Volgens Boland het dit die groep sowat ’n jaar gevat om die album te voltooi. “Dit was ’n lekker album om aan te werk en ons het elke deel geniet. Skryf is ’n ongelooflike proses waar jy ’n stukkie van jou lewe kan deel, terwyl die produksie en opname kreatief en opwindend is.”

Alhoewel meeste van die snitte deur Boland en Jordaan geskryf is, het hulle ook nou saam met die res van die groeplede, Nate Woodman, Marc Brendan en Don Kelly (Lang Storie Kort) gewerk.

POSDUIF is in 2018 gestig en het hulle debuut gemaak met die liedjie Brandy Special, wat meer as 400 000 trefslae op sosiale media gehad het. Sedertdien, het hulle verskeie ander treffers vrygestel en is hulle deur Bok Radio benoem as Groep van die Jaar en vir Liedjie van die Jaar. Hulle vorige album, Niks Vergelyk, het in 2022 die SAMA gewen vir beste pop-album.

Die groep bestaan uit Boland (hoofsanger en kitaarspeler), Jordaan (ritmekitaarspeler en sanger), Amiel Gopal (baskitaarspeler), Campbell (vervaardiger en hoofkitaarspeler) en Nick McCreadie op die dromme.

Met die vrystelling van hulle nuwe album sien hulle daarna uit om soveel as moontlik op te tree, met twee toere – een langs die kus af en een in Namibië – op die kaarte. Hulle werk ook aan twee musiekvideo’s.

“Ons is so opgewonde om hierdie nuwe album met mense te deel en weer ons stories te vertel,” sê Boland oor BRANDSTIGTER. “Ons is ongelooflik dankbaar dat ons musiek tot dusver so goed ontvang is en hoop mense geniet die nuwe album.”

Posduif het ook hulle nuwe album met n vuurwarm luistersessie aan uitgesoekte gaste en media bekendgestel op 3 April by Whisk Wine Bar in Centurion. Onder die gaste was bekendes soos Hugo Ludik, Jakkie Louw, Demi Lee Moore, Bartlo, Mack Rapapali, Albert Bredenhann, Nastassja Ras, Rowan Zerf, Charlize Berg, Stephan van Huysteen, Diaan Daniels, Luan Jacobs, Annelie Bouwer, Francois van Resburg, Eloff, Cobus Visser, Hildegard Havenga en vele meer wat die groep kom ondersteun het. Kyk gerus na die fotos van die ongelooflike aand hier: https://www.dropbox.com/scl/fo/arz9015ro9ry6nl4ji59w/h?rlkey=2zx88trxo7c3zew68erbshjfj&dl=0

Krediet vir die luistersessie fotos gaan aan: ByEvanCaptures
Instagram handle: @byevancaptures

BRANDSTIGTER is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://linktr.ee/brandstigter

Kyk die liriek video hier: https://youtu.be/YISsoGXOLgM

LYS VAN SNITTE

Brandstigter

Kaalvoet Kinders

Voetfout

Houer Van Jou Geheim

Geniet die Dans

Lang Storie Kort

Lewe is ’n Lied

Vat Jou Hoender

Waar Ek My Lippe Neerlê

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook:  https://www.facebook.com/PosduifLive/

Instagram: @posduif_live

Twitter: @Posduif14

Webblad: https://posduif.live/

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies

Danelle Liebenberg El Far

Sel: 071 534 7796

E-pos: danelle@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →