Dewald Gouws bedien met uitgesoekte keur van Amerikaanse Gospel musiek

Dewald Gouws, wat dit as sy roeping beskou om Suid-Afrikaners deur sy musiek, woord, en kragtige getuienisse te bedien, het besluit om oor die volgende vyf maande splinternuwe baadjies vir ‘n reeks gunstelinge vanuit kontemporêre Amerikaanse Christelike musiekkringe aan te trek.

Dié kunstenaar met sy goeie tenoorstem, en suiwer boodskap, het homself oor die afgelope dekade as een van die voorste sangers van Afrikaanse Christelike musiek gevestig, soos duidelik blyk uit die vyf albums, Verhaal Van Glorie (2012), Stuur My (2014), Die Tyd Is Nou (2015), Born Again (2017), en Staan Op (2019), asook verskeie enkelsnitte op sy kerfstok. Om sy eie interpretasie aan ‘n welbekende treffer te verleen, is egter geen vreemde fenomeen vir hom nie, soos duidelik blyk uit die sukses wat hy met die uitreiking van sy weergawes van bekende treffers soos Bridge Over Troubled Water, How Great Is Our God, Only Jesus, Grace, If Even, en Chain Breaker behaal het.

Daarom beloof sy nuutste inisiatief, waarvolgens ‘n reeks internasionale Christelike treffers maandeliks as ‘n enkelsnit en ‘n liriekvideo uitgereik sal word, om glad nie vreemd op aanhangers van sy musiek se ore te val nie. Dit sluit in Elevation Worship se Praise deur Brandon Lake, Chris Brown en Chandler Moore, Trust In God deur Chris Brown en Isaiah Templeton, Holy Forever deur Chris Tomlin, Jenn en Brian Johnson, This Is Our God deur Phil Wickham, en Gratitude deur Brandon Lake.

‘n Belangrike deel van Dewald se roeping is om in lof en aanbidding vir kinders van die Here leiding te gee, hetsy dit nou tydens kerkdienste, manne-kampe, vroue-tee’s, skole, of rehabilitasiesentrums is. “My hart is vir gebroke mense wat teleurstelling en hartseer beleef. Ek hoop dat my musiek opbouend en sielsverykend sal wees sodat hulle hul hoop in Jesus Christus kan vind. Ek beleef ‘n absolute honger vir die kragtige werking van die Heilige Gees in mense van ons land se harte. Daarom wil ek my gawes en talente met hulle deel soos wat God van my verwag,” verduidelik hy wat tot dié besluit gelei het.

Dewald was saam met Jan de Wet, Willie Joubert, en Leon Ferreira deel van die supergroep, Manne Wat Glo, wat nie net twee albums saam opgeneem het nie, maar ook regoor Suid-Afrika, sowel as in Australië en Nieu-Seeland met hulle musiek gaan toer het. Hy het ook gereeld met ander kunstenaars kragte saamgesnoer om duette die lig te laat sien soos Bring U Vrede en Holy (met Carlé van Deventer), asook Hou Aan Met Glo en Met Hierdie Lofgesang (met Jannie Moolman), sowel as But God (met Loyiso Bala), Bridge Over Troubled Water (met Coenie de Villiërs), en Die Evangelie (met Hemelbesem).

Dewald Gouws se aangrypende weergawe van Phil Wickham se uiters gewilde treffer, This Is Our God, is die eerste van ‘n reeks internasionale Christelike treffers wat hy oor die volgende vyf maande op alle digitale musiekplatforms soos Youtube, Youtube Music, Spotify,iTunes, en Deezer bekend gaan stel.

SangerLiedISRCSkrywerPublisher
Dewald GouwsThis is our GodZAQR42400997Steven Furtick / Phil Wickham / Brandon Lake / Joseph Patrick Martin Barrett This Is Our God lyrics © All Essential Music, Capitol Cmg Genesis, Be Essential Songs, Housefires SoundsVonk Musiek

Vrygestel deur Tania Fourie Promosies.

Vir media navrae, kontak Tania Fourie by 072 194 2794, of stuur ‘n e-pos na tania@tfpromosies.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →