WENKE VIR JONG ONTWERPERS – KLIM SÓ DIE LEER NA SUKSES!

Die modebedryf lyk glansryk – dink aan treffende modelle in asemrowende skeppings – en modeontwerp is dikwels ’n gewilde beroepskeuse vir dié wat hul kreatiwiteit met hulle passie vir mode wil saamsmelt. Dié bedryf is egter ook mededinging, met nuwe toetreders wat onseker is oor hoe om hul merk te maak.

Foto Krediet – Ludvig Photography 

Volgens die bekende Suid-Afrikaanse ontwerper Diaan Daniels, wat al vir meer as 25 jaar sy stempel in die modebedryf afdruk, is daar ’n paar stappe wat jong ontwerpers kan volg om hulself te vestig en ’n suksesvolle loopbaan in die modebedryf te hê. Hy waarsku egter, “dit is 99% harde werk, 1% glans, en daar is geen ruimte vir ego’s. Daar is ook geen kortpaaie nie”.

In terme van opleiding en kwalifikasies, meen Daniels dat ’n diploma in modeontwerp dikwels ’n vereiste is, maar dat daar ook ontwerpers sonder formele kwalifikasies is wat ongelooflike werk doen. “Dit gaan uiteindelik oor passie en toewyding. Jy kan verseker jouself leer, en ’n goeie mentor kan van onskatbare waarde wees.” Hy voeg by: “Onthou ook, mode staan nooit stil nie, so selfs al het jy ’n diploma is dit belangrik om aanhoudend nuwe tegnieke en vaardighede aan te leer.”

Ongeag hul opleiding, sê hy daar is ’n paar eienskappe wat alle ontwerpers in gemeen het. “Suksesvolle modeontwerpers het natuurlike kreatiewe intuïsie, is uitstekende probleemoplossers, het dissipline en geduld, en hulle gee nooit op nie. Daar is baie dinge wat jy kan aanleer, maar dié eienskappe moet deel van jou DNS vorm.”

Uit ’n besigheidsoogpunt verduidelik hy dat modeontwerp, alhoewel kreatief, uiteindelik ’n besigheid is en moet sodanig bedryf word. “As daar elemente is waarmee jy nie goed is nie, byvoorbeeld finansies of bemarking, moet jy kenners aanstel wat jou kan ondersteun. Die doel is om op alle fronte jou besigheid professioneel uit te beeld. Verhoudings is ook uiters belangrik – nie net met kliënte nie, maar ook met ander diensverskaffers soos fotograwe en grimeerkunstenaars, die wyer bedryf, en selfs die media. Die opbou van ’n netwerk is noodsaaklik vir sukses.”  

Diaan se wenke vir aspirant-ontwerpers sluit ook in:

Wees outentiek jouself: Jy kan – en moet – deur ander geïnspireer word, maar jy moet van die begin af jou unieke stempel op die bedryf afdruk.

Maak die meeste van leergeleenthede: Wanneer die geleentheid om van meer gevestigde ontwerpers te leer hom voordoen, gryp dit aan. Dit kan jou help om sekere ontwerpelemente baas te raak, maar ook om ander kreatiewe en besigheidsvaardighede aan te leer en sodoende jou doelwitte vinniger te bereik.

Wees bewus van nuwe neigings, maar bly getrou aan jou eie styl: Weet wat in die modebedryf aangaan, maar onthou dat nie al jou kliënte die nuutste modes kan of wil volg nie. Hou dus nuwe neigings en internasionale modes dop, maar pas dit aan volgens jou eie styl en dit wat jou kliënte wil hê.

Spesialiseer in dit waarvan jy hou: Die kanse dat jy suksesvol gaan wees is beter as jy iets doen waarvan jy jou. Moet dus nie trourokke ontwerp as jy ’n passie vir mansklere het nie. Wees egter ook realisties oor die aanvraag in die mark.

Weet wat jy werd is: Wees bewus van wat jou portuur in die bedryf vir hul ontwerpe vra, maar onthou ook dat mense bereid is om vir diens, gehalte, en betroubaarheid te betaal. Mense belê in mense.

Vertoon jou vaardighede: Wys alle aspekte van jou werk sodat mense kan sien waartoe jy in staat is. Tydlose en klassieke ontwerpe is altyd in aanvraag, maar moenie bang wees om risiko’s te vat en ander opsies te verken nie.

Moenie bang wees vir mislukking nie: ’n Kernaspek van enige kreatiewe bedryf is ‘leer en probeer’. Moet dus nie bang wees om foute te maak of af en toe te misluk nie – dit is dikwels die beste leerskool.

Goeie gehalte kan bekostigbaar wees: Dit is moontlik om oorspronklike ontwerpe van goeie gehalte teen bekostigbare pryse te lewer. Maar dit verg tonne navorsing, geduld, en soos voorheen genoem, ‘leer en probeer’.  

Sy finale raad aan jong ontwerpers? “Pas jou naam op – jy het net een.”

Oor die kenner:

Diaan Daniels is ’n bekende Suid-Afrikaanse ontwerper, besigheidsman en televisiepersoonlikheid.

Hy besit Diaan Daniels Couture en sy ontwerpe is al deur talle plaaslike asook internasionale sterre gedra. Hy was ook die aanbieder van die VIA-program Die Bruid-boetiek.

Diaan, wat in Bloemfontein grootgeword het en tans in Johannesburg woon is sedert 1998 aan die voorfront van die modebedryf en deel graag sy storie as ontwerper en besigheidsman met ander.

Biografie van Diaan Daniels

Diaan Daniels is ’n bekende Suid-Afrikaanse ontwerper en is al sedert 1998 aan die voorfront van die modebedryf. Dié besigheidsman en televisiepersoonlikheid se ontwerpe is al deur talle plaaslike asook internasionale sterre gedra.

Diaan is in Bloemfontein gebore en het daar skoolgegaan. Hy was van jongs af versot op die kunste en het daarvan gedroom om ’n sanger of balletdanser te word. Die plan was om ná skool drama te studeer, maar hy het op die nippertjie sy kursus na modeontwerp verander, ’n passie wat aangewakker is deur sy ouma wat hom as kind geleer het om te brei, te hekel en naaldwerk te doen.

Die talentvolle ontwerper se vaardighede was as student reeds hoog in aanvraag en hy het in sy eerste jaar rokke ontwerp, modeparades gehou, en saam met ’n modelagentskap begin werk waarmee hy sy loopbaan in die bedryf amptelik afgeskop het. Hy het ook gehelp om die Bloemfonteinse bruidskou te organiseer. Hy was so besig om sy eie suksesvolle besigheid te bedryf dat hy nooit sy formele kwalifikasie voltooi het nie. ’n Koerantredakteur het van hom te hore gekom en genader om ’n gereelde moderubriek te skryf in die destydse JIP-bylae van die Volksblad.

In 2001 het hy ’n kans gevat en vir die beroemde Suid-Afrikaanse aktrise, Brümilda van Rensburg, ’n uitrusting ontwerp – sonder dat sy hom geken of daarvan geweet het. Sy was so beïndruk met sy skepping dat sy hom die geleentheid gegee het om saam met haar te werk. Dié verhouding het gelei tot verskeie geleenthede, insluitend werk vir kykNET, en om rokke vir onder andere Nianell, Cindy Nell Roberts en Kerry McGregor te maak. Sy ontwerpe het ook gereeld in mode- en bruidstydskrifte verskyn en as jong ontwerper is hy drie jaar in ’n ry as beste trourokontwerper in die Vrystaat aangewys.

Met ’n groot en getroue kliëntebasis in die Vrystaat en werk wat van Johannesburg af ingestroom het, het Diaan vir ’n dekade lank sy besigheid vanaf Bloemfontein bedryf. Die geleentheid om in 2005 sy ontwerpe by Fashion Week in Kanada ten toon te stel en ’n ander besigheidsproposisie in 2007 het hom na die Kaap gelok, maar hy het homself kort daarna in Johannesburg gevestig, waar hy besluit het om sy fokus van trourokke na mansklere te verskuif. Sy groot deurbraak op dié gebied het gekom toe hy die gewilde sanger, Kurt Darren, se troupak ontwerp het.

Met sy merk gemaak was daar ’n toevloed van geleenthede – Diaan het klere vir talle bekendes ontwerp, hy het sy debuut op televisie gemaak, en hy het ’n landswye kompetisie in samewerking met Disney van stapel gestuur.

Die gewilde ontwerper kon uiteindelik ook sy passie vir drama uitleef as aanbieder van die VIA-program Die Bruid-boetiek. Dié gewilde reeks het vir drie seisoene ’n blik gewerp op hom en sy kliënte. Voor dit was hy betrokke by die skepping van My Droom-trourok, wat blootstelling aan Diaan asook verskeie ander ontwerpers gegee het.

In 2014 het sy fokus weer verskuif na trourokke en hy het in 2018 ’n nuwe boetiek in Fourways begin. Dié gewilde boetiek bied ’n reeks luukse dienste en die ontwerpers loods elke jaar ’n splinternuwe versameling. Alhoewel hy erken dat dit ’n groot uitdaging is om ná 25 jaar in ’n kreatiewe, modegedrewe bedryf relevant te bly, bly sy ontwerpe immergewild.

Die sleutel tot sy sukses, glo hy, kan in drie kort boodskappe opgesom word: wees outentiek jouself, bly in jou baan, en pas jou naam op – jy het net een.

Vir Diaan is ’n hoogtepunt van sy werk om verskillende mense te ontmoet en om die vreugde op sy kliënte se gesigte te sien wanneer ’n uitrusting voltooi is. Ten spyte van sy voorkeure en ervaring is dit vir hom belangrik om elke kliënt as individu te sien en ook hul ontwerpe só te benader, eerder as om sy eie styl af te dwing.

Met Diaan Daniels Couture goed gevestig sluit die ontwerper se toekomsplanne meer mode-parades, meer televisierolle, en meer geleenthede om sy storie as ontwerper en besigheidsman met ander te deel, in. Die bekwame besigheidsman, wat ook Diaan Daniels Real Estate besit, kyk ook uit om sy besigheidsbelange te diversifiseer. 

Vir Diaan is fiks wees en gesond leef ononderhandelbaar – dit sluit sy emosionele welstand in. Daarom handhaaf hy ’n goeie werk-lewe balans. In sy vrye tyd kuier hy graag saam met vriende en familie en hy hou ook daarvan om te reis.

Ná 25 jaar in die modebedryf is ontwerp vir hom tweede natuur – ’n talent wat hy amper as heldersiendheid beskou – en kan hy in minder as twee minute vir enige kliënt ’n ontwerp teken. Die bedryf, glo hy, is egter nie vir almal nie.

“Dit is 99% harde werk, 1% glans, en daar is geen ruimte vir ego’s. Daar is ook geen kortpaaie nie. Gehalte is alles,” sluit hy af.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/DiaanDanielsCouture

Instagram: @diaandanielscouture

Webwerf: www.diaandaniels.com

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Gizela Sharim

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →